Monday, March 30, 2020

JOHANNESBURG – Dit gaan goed met die veertig renosters wat onlangs vanjaar binne drie weke in Botswana deur die bewaringsorganisasie Rhinos Without Borders (RWB) hervestig is onder leiding van Les Carlisle, groep bewaringsbestuurder van die maatskappy andBeyond  en projekbestuurder vir RWB.

Met die mees onlangse projek het die span ‘n aantal renosters op ‘n yskoue oggend in die hartjie van Suid-Afrika aangekeer en die laaste renoster is 36 ure later diep in Botswana  afgelaai.

Tuis in Botswana. Foto: David Murray

“Hulle raak werklik goed ingeburger in hul nuwe tuistes. Daar is ook reeds twee kalfies van vanjaar se hervestiging gebore. Dit is altyd ‘n goeie maatstaf van sukses,”sê Carlisle.

Die hervestigingsdroom van RWB is reeds in 2011 gebore. Die doel was om 100 renosters vanaf Suid-Afrika in Botswana te hervestig. Die eerste renosters is in 2013 geskuif.

“Dit het ons drie jaar van beplanning geneem om die eerste renoster te skuif,” sê Carlisle.

Les Carlisle van Rhinos Without Borders (onder) help om ‘n krat met ‘n renoster af te laai. Foto: Wayne Raymond

Die doel van RWB is om ‘n volhoubare bevolking van renosters in Botswana te vestig. Danksy hul werk is daar al oor die volle tydperk sewe renosterkalfies in Botswana gebore.

Renosters word soms per helikopter en ander kere per vraghouer op trokke by hul dikwels onbereikbare bestemmings afgelaai. Die hervestigingsprojek word  deur  twee bewaringsinstansies Great Plains Conservation en andBeyond  gedoen.

Renosters se hervestiging kan ook soos onlangs vanjaar met hervestiging in Botswana per helikopter geskied. Foto: David Murray

Vir die bewaringsleiers maak dit sin om die renosters van intense stroopsones in Suid-Afrika te verwyder na areas soos in Botswana waar stroping nie maklik kan plaasvind nie.

Volgens die statistiek van die antistropingspleitgroep, Outraged South Africans Against Poaching (OSCAP), was daar reeds 692 renosters teen die einde van Augustus in Suid-Afrika deur stropers platgetrek. Die regering het meer as ses maande gelede laas amptelike syfers bekend gemaak.

Fondsinsameling word ook deur hierdie bewaringsorganisasies gedoen.Dit kos meer as R600 000 per renoster om die hervestiging te doen. Vrygelate renosters is toegerus met opsporingstoerusting. Hul DNA word ook na die nasionale databasis gestuur en moet deur kundiges ter plaatse geneem word.Vir die span was dit drie dae sonder slaap as deel van die 11 viertrektrok-konvooi. Van die spanlede was veeartse en kundiges wat met renosters werk. Die span en die renosters is in ten volle toegeruste trokke vervoer en deur beskermingsvoertuie met gewapende wagte vergesel. Ook die weermag van Botswana was betrokke en het die kosbare vrag vanaf die Botswana-grens vergesel.

Vir Carlisle was die grootste uitdaging die ko-ordinering van al die betrokkenes sowel as die logistieke. Diverse permitte moes bekom word en toestemmingsvereistes van beide lande moes verkry word.

Petronel Nieuwoudt van Care for Wild (middel). Foto: Care for Wild.

“Die departemente van doeane, inkomstediens, beide reserwebanke, CITES, immigrasie en veeartsowerhede sowel as die departemente van Landhou van beide lande moes toestemming en permitte gee. Boonop moet ons ook sorg dat die renosters geskuif word voordat die permitte verval. Die trokke, vliegtuie en spanne op die grond moes ook versorg word. Dit alles in ag genome was die fisiese skuif van die renosters eintlik die maklikste en mees  vervullende deel van die projek,” sê Carlisle.

Vir hom lê die verskil tussen die anti-stropingspogings in Suid-Afrika en Botswana in die politieke wil waarmee renosterbewaring in Botswana aangepak word.

“Al die Botswana-veiligheidsagentskappe werk saam aan die projek en daar is totale toewyding van hulle kant om die renosters in hul nuwe tuistes te beveilig. Ons het die eerste ses wit renosters in 2013 vrygestel. Die president van Botswana, Ian Khama, het die vrylatingsgeleentheid self bygewoon asook vanjaar in Mei. In Suid-Afrika help die weermag net in die Kruger-wildtuin in ‘n ondersteuningshoedanigheid. In Botswana het weermageenhede ‘n konvooi voertuie gestuur om ons elke keer te beskerm. Hulle het selfs ‘n weermagvliegtuig, ‘n C-130 vragvliegtuig, na Suid-Afrika gestuur om renosters van Suid-Afrika te kom haal. Die weermag stuur ‘n soldaat op elke renosterpatrollie of dit nou deur privaat instellings of hul eie parkeraad gedoen word,” bevestig Carlisle.

Sewe kalfies het al die lewenslig in Botswana na hervestiging van die renosterkoeie gesien. Foto: Rhinos Without Borders

Petronel Nieuwoudt en Chris de Bruno Austin van die grootste renosterwesie-toevlugsentrum, Care for Wild, het die mees onlangse hervestiging meegemaak.

“Wat ‘n ervaring om die konvooi te sien en deel daarvan te wees,”sê Nieuwoudt wat al meer as twee dekades by bewaring betrokke is en bekend is vir haar kundigheid wanneer renosterredding veral van renosterwesies uit die Kruger-wildtuin ter sprake kom.

“Dit was so ‘n voorreg. In my hele lewe het ek nog nie so iets ongeloofliks ervaar nie. Professionaliteit met die logistieke was elke dag die sterk punt van die ekspedisie. Les Carlisle, dr. Markus Hofmeyr en dr. Dave Cooper is die drie wyse manne wat my mateloos beindruk het.”

Vir Nieuwoudt is dit hartseer dat Suid-Afrika se renosters nie dermate soos die van Botswana opgepas word nie.

“Die toewyding van die span sowel as die respek vir die diere en bewaring is in Botswana op ‘n vlak waarby ons net kan leer. As ons so ‘n span het om renosters te red sal ons werklik ver kan gaan.”

Contact: www.rhinoswithoutborders.com

 

 

 

Tags: , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

2 Comments

Avatar
Richard Prinsloo November 28, 2017 at 3:30 pm

Baie mooi! Ja, Botswana het inderdaad ‘n beter regeringsposisie teenorr renosterbewaring, kom ons hoop dit hou so aan.

Avatar
Gerhard Smit November 29, 2017 at 5:34 am

Dit is goed om te sien dat ons wat teen die kommersialiasering van renosters gekant is, hier kan sien dat daar baie ander is wat soos ons ingestel is. Dankie aan almal hierby betrokke, dankie ook aan die Botswanaregering wat sterk standpunt oor bewaring inneem.

In die RSA word baie gepraat deur ons DOS maar vrek min gedoen, ek het sowat twee maande gelede navraag oor arrestasies en suksesvolle vervolging van stropers deur die SANW en SAPD sedert 2010 gedoen, die politici was vuur en vlam hieroor, my selfs daaroor gebel en die versekering geggee dat dit dringend aandag sal kry, tot nou toe niks.

Die grootste getal arrestasies van stropers in ons Parke word deur die Veldwagters self uitgevoer.

Ons moet nooit vergeet dat Veldwagters is bewaarders nie Polisiemanne of So;ldate nie.

Leave a Comment