Sunday, February 23, 2020

HARTEBEESPOORT – “Die uil moes geweldige pyn verduur het,” sê Brendan Murray, bestuurder van die Owl Rescue Centre naby Hartebeespoort oor die erg beseerde uil wat voorverlede week deur ‘n weldoener lewendig by die sentrum afgelaai is.

Die uil se oogbal is deur ‘n windbukskoeël geskend.

Foto : Owl Rescue Centre

Murray het aan Rhombus Media verduidelik dat maaiers reeds in die uil se oog ingebed was. Die suur in die maaiers se urine het die uil se oogbal uitgevreet.

“Ons sien ‘n paar gevalle hiervan in ‘n jaar, maar hierdie een was erg,” het Murray bevestig. Die uil het gevrek voor hy behandel kon word.

Brendan Murray van die Owl Rescue Centre. Foto: Owl Rescue Centre

Die reddingsentrum is daaraan toegewy om uile te beskerm en dié te red wat in gevaar verkeer sowel as om vir siek uile te sorg en hulle weer volgens wetenskaplik gebaseerde metodes in die natuur los te laat.

Kliek hier om ‘n ongewenste uilhuisbesoeker by die reddingsentrum te sien

Murray voel ernstig oor ouers se plig om kinders te leer om nie met windbukse na voëls te skiet nie. “My beroep is op ouers om hul kinders na ‘n reddingsentrum vir roofvoëls te neem. As jy een keer ’n dag lank saam met uile deurgebring het, sal jy nooit op hulle skiet nie. Dalk sal ons nie so baie van die geveerde pasiënte moet inneem nie.”

Martie Rossouw, woordvoerder van die Dierbeskermingsverenignig se nasionale kantoor se wildlewe-eenheid sê dat die vereniging nooit ‘n geskietery met windbukse op uile kan goedkeur nie.

“Hierdie wangedrag sal net opgelos word as kinders geleer word om die natuur te respekteer. Ouers moet kinders opvoed en moet ook toesig hou waar kinders met windbukse skiet.”

Sy het klem daarop gelê dat die afvuur van windbukse in stedelike gebede verbied is. Soms voel stadsinwoners hulle het die reg om voëls wat hulle dink probleme veroorsaak uit die weg te ruim.

“Windbukse is nie speelgoed nie. Hul gebruik op lewende diere in stedelike gebede is ‘n oortreding van die Dierebeskermingswet. Elke geval moet aangemeld word. Jou vinnige reaksie kan dalk ‘n dier red of ander diere se lyding verhoed.”

Hooffoto: Danelle Murray van die Owl Rescue Centre. Foto: Owl Rescue Centre

Tags: , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

0 Comments

Leave a Comment