Sunday, February 23, 2020

KAAPSTAD – Yoshi, die seeskilpad wat 20 jaar lank al harte steel by die Twee Oseane-akwarium in die hawe van Kaapstad, se satellietopsporingsbandsein het reeds aangedui dat sy tuis en veilig is in die waters net anderkant Kaappunt nadat sy op 17 Desember vrygestel is.

Saam met haar is 26 kleiner seeskilpaaie vrygelaat. Dit is moontlik gemaak deur ‘n aantal donateurs wat beursies oopgemaak het vir die akwarium se aanneemprogram vir seeskilpaaie.

Yoshi was lank deel van die Twee Oseane-akwarium se groot aantal akwatiese sterre. Sy staan volgens kommunikasiebeampte van die akwarium, Karen Lockhart, bekend as die “koningin van die uitstalling.”

Sy was eers deel van die roofvisafdeling. Verlede jaar het sy met vernuwings aan die akwarium deel van die oseane- en jellievisuitstalling geword.

Yoshi se naam kom vanaf die Japanese sjef, Yoshimara, wat haar in 1997 op ‘n boot in die Kaapstad-hawe gevind het en die akwarium van haar teenwoordigheid op die dek van hul boot in kennis gestel het.

Sy was toe so groot soos ‘n bord. Met haar vrystelling het Yoshi 182 kilogram geweeg.

Seeskilpaaie soos Yoshi word nie gebruiklik in koue seewater gevind nie. Dit is ook een van die redes sê Lockhart hoekom sy nou by Kaappunt losgelaat is sodat sy ‘n keuse het of sy die Oos- of Weskus van Afrika se waters verkies.

“Ons is almal hartseer om haar te sien gaan, maar weet dit is die beste vir haar en gun haar die vryheid,” be-aam Lockhart bewonderaars van Yoshi se gevoelens.

Een van die redes hoekom Yoshi vrygelaat is, is die feit dat sy op 24-jarige ouderdom seksuele volwassenheid bereik het en duidelik toon dat sy reg is om die bevolking van die suidelike oseane se seeskilpaaie aan te vul.

Daar is egter verskeie bedreigings vir die karetskilpad in die oop oseaan sê Lockhart. Dit het veral met seebesoedeling te make en dan juis met veral drywende visgerei en te veel plastiese afval. Danksy die satellietherkenningsband sal die NSRI Yoshi kan help indien sy hulp benodig.

Dr Jenna Jambeck, ‘n mariene navorser van die Universiteit van Georgia, het vroeër vanjaar bevestig dat ‘n onlangse navorsingstudie oor mariene plastiese afval bevestig dat Suid-Afrika een van die ergste sondebokke is wanneer dit by wanbestuur daarvan kom en Nommer 11 op die swartlys is.

Lockhart het bevestig dat Yoshi en ander seeskilpaaie gewoonlik terugkeer na die strande waar hulself uitgebroei het. “Sy is dalk soontoe op pad.”
Aangesien sy as ‘n “weeskind” by die akwarium beland het, kan hulle nie haar bestemming bepaal nie.

Yoshi is nie die eerste seeskilpad wat deur die akwarium vrygestel is nie. In 2015 is die bekende Otto en Winston losgelaat. Die twee het met data afkomstig van hul satelliettoestelle bewys dat hulle toegerus is om in hul natuurlike omgewing te oorleef. Otto het al die pad na Madagaskar geswem en Winston na Gaboen.

Karetskilpaaie vind volgens magnetiese velde en seestrome hul weg na hul broeistrand terug. Eiers word dan hier op strande gelê. Daar is wêreldwyd ‘n geskatte 80 000 tot 90 000 karetskilpadneste op strande. Die skilpaaie swem vir omtrent twee ure ‘n dag.

Vind uit hoe jy ‘n seeskilpad kan aanneem: https://www.aquarium.co.za/blog/entry/adopt-a-turtle-hatchling

Foto’s: Verskaf deur Twee Oseane-akwarium

Tags: , , , , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

0 Comments

Leave a Comment