Monday, March 30, 2020

SOMERSET-WES – Johan van Graan het nie by sy uittrede na 32 jaar as ‘n veldwagter nodig gehad om sy veldwagtersuniform en bakkie in te ruil vir ‘n stel kwasse en ‘n verfesel nie.

Voormalige veldwagter, Johan van Graan en een van die drie welpies wat hy in die tagtigerjare in die Kruger-wildtuin gered het.

Hierdie talentvolle skilder wat graag die natuur en diere uitbeeld, skilder al van Standard 8 toe hy op Klerksdorp met drome in sy oë gedink het aan ‘n loopbaan as ‘n veldwagter.

Johan het die buffellopie oorleef en daarna die skildery gemaak om die ervaring te verwerk.

Lees meer hier oor die buffellopie

Min het Johan geweet hy sou sedert 1970 vir meer as vier jaar in die Kgalagadi Oorgrenspark rooi kalaharisand tussen sy tone voel tydens patrollies. Ook sou hy kalaharileeus so goed leer ken dat hy hulle sou kon uitken aan die manier wat die kraagmannetjies hul sterte dra wanneer hul in die veld loop. Só goed dat hy een van die leeus, Nommer Drie, op skilderdoek sou kon vasvang.

Die skildery het onlangs ereplek ingeneem by uitstalling van sy skilderye in Somerset-Wes aan huis van nog ‘n skilder in die familie, sy dogter Marina Louis.

Marina Louis

Johan kyk met nostalgie terug na sy innige verbintenis met die veld. “Die stil tye en oop ruimtes waar jy alleen met jou eie gedagtes is, sal my altyd inspireer.”

Hy glo hy het sy skildertalent van sy pa Japie geërf. Die uiteindelike produk kom egter vanuit ’n dieper plek in sy menswees. “Wanneer ek ‘n kwas optel, trek ek net strepies. Die Here hou my hand vas.”

Deesdae woon Johan (75) in Somerset-Wes saam met sy vrou Kotie nadat hy in 2000 vir oulaas sy veldwagtersgeweer in Krokodilbrug in die Kruger-wildtuin opgehang het.

Sy loopbaan sluit verskeie interessante hoogtepunte in soos diens in die Golden Gate Nasionale Park, die stigting van ‘n nasionale park in die Ivoorkus en ‘n lang verblyf in die Malalane-kamp sowel as Krokodilbrugkamp in die Kruger-wildtuin. Hy het ook in Kimberley ‘n volbloedstoet Lippizanerperde vir ‘n paar jaar versorg na sy aftrede.

Kotie van Graan in die tagtigerjare by Tessa en die leeuwelpies

Van sy verblyf in die wildtuin is dit die grootmaak in 1982 van drie leeuwelpies wat hom bybly. Die redding van die driestuks was opsigself ‘n ervaring.

‘n Leeuwyfie is tydens ‘n patrollie deur veldwagters gekwes. Johan en sy span is die volgende dag uit om die wyfie op te spoor met drie honde waaronder ‘n teef met Staffie-bloed, Tessa. Die wyfie is wel met ‘n koeël in haar bors opgespoor en moes van kant gemaak word.

Die honde het egter in ‘n sonkol in ‘n bos haar drie welpies ontdek. Sonder skroom het Tessa die welpies soos haar eie aanvaar. “Sy het hulle vir haarself gedêps,” sê Johan.

Johan van Graan het saam met sy vrou, Kotie, en seun Japie het gereeld met die drie leeuwelpies gespeel.

Sy het hulle nie vir ‘n oomblik onder haar oë laat uitgaan nie. Die geliefde hond het selfs voor in die bakkie saam met hulle na die van Graans se wildtuintuiste gery. Hulle is gou Schumba, Jane en Lady gedoop.

Die Van Graan-gesin in die jare toe Johan nog veldwagter was.

Tuis het die Van Graans as ‘n gesin die welpies probeer groot kry op melk en eiers volgens ‘n vee-arts se aanwysings. Die plan het nie sulke goeie resultate gelewer nie. Die driestuks het aan Tessa begin suip. Hondemelk was die oplossing! Haar melk het binne 21 dae ingekom en toe het die welpies begin gedy.

“Hulle het in gewig begin toeneem en hul hare het begin blink en groei,” vertel hy.

Die grootmaak van die welpies het hy onder die wakende oog van ‘n vee-arts, Roy Bengis, gedoen.

Na ses maande het die onvermydelike dag aangebreek. Die leeus moes herintegreer word met die veld om weer wild en vry te lewe. Johan het ‘n rooibok se karkas in die veld geplaas. Hy het teruggekeer na die bakkie nadat die drie in die veld losgelaat is. Hulle het verskeie kere teruggekeer na die bakkie waar hy vir eers afskeid geneem het.Hy het mettertyd vertrek.

Jane het nie die vrystelling in die veld oorleef nie en is deur ander leeus doodgebyt. Johan het hulle nie sien grootword nie aangesien hy toe deur die leier van die Ivoorkus gevra is om ‘n natuurpark aldaar te vestig.

Jare daarna was daar wel ‘n blye weersiens tussen Johan, Schumba en Lady toe hy van die park in die Ivoorkus teruggekom het en teruggekeer het na dieselfde area waar die leeus destyds losgelaat was.

Hy het sy bakkie gestop toe hy Schumba, nou ‘n uitgegroeide kraagmannetjie, in die veld herken het aan die plaatjie in sy oor.

“Hy het maanhare so lank soos ‘n hand gehad,” sê hy nostalgies.

Hy erken egter dat sy filosofie lui: “Alle helde lê in die begraafplaas.”

Toe Schumba hom en die bakkie dus herken het, het Johan ten spyte van hul eertydse verbintenis liggeloop. Die leeu het stadig na die opgerolde venster aangestap gekom. Johan het die venster egter net op ‘n groot genoeg skrefie oopgemaak om Schumba toe te laat om vir ‘n oomblik sy poot deur te stoot en na hom uit te reik. Na ‘n skramse aanraking het die ou grote na sy eie trop teruggestap.

Ook toe hy later die dag vir Jane herken het aan die ‘v’-merk in haar ore, het hierdie leeuliefhebber dankbaar teruggedink aan die dag toe hy die drie welpies kon red. Ook sy was reeds deel van ‘n trop.

“Jy vergeet nooit so ‘n oomblik van herkenning nie. Dit verewig jou verbintenis met die veld.”

*Johan van Graan se skilderye kan op sy Facebookblad Johan van Graan Ex Ranger gesien word. Skakel Marina Louis by 0827777371 vir meer inligting daarrondom.

* Toe Johan hoor Don English, ‘n veldwagter van die Kruger-wildtuin, het verlede jaar ‘n buffelstormlopie oorleef, was hy die een mens wat presies geweet het wat dié geliefde pa en legende in bewaring deurgemaak het.

Foto’s verskaf.

Tags: , , , , , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

7 Comments

Avatar
Les Holmes March 16, 2018 at 6:49 am

Lieflike verhaal in dle lewe en saam met die mees belangrika. Mooi so Johan.

Avatar
Susan Kelder December 23, 2018 at 10:55 am

Dit is vir my ‘n eer en GROOT voorreg om Johan en Kotie van Graan my vriende te kan noem. Johan en my oorlede man, Sakkie, was hegte vriende. Johan is die kunstenaar met die verfkwas wie se werke vir ons nageslag bewaar sal word en Sakkie was die skrynwerker wie se kuns in sy houtwerk dwarsdeur die Krugerwildtuin te sien is. Saluut op kunstenaars in eie reg en vriendskap wat gegee en nie geneem het nie🥃🥂🥃

    Elize Parker
    Elize Parker March 19, 2019 at 1:22 pm

    Dankie Susan!

Avatar
Debbie Nel (van Wilderode) December 23, 2018 at 1:02 pm

Johan this sure brings back memories of our years in Kruger, so many stories to tell around the fire and so many experiences

    Elize Parker
    Elize Parker March 19, 2019 at 1:23 pm

    Dankie Debbie!

Avatar
Debbie Nel (van Wilderode) December 23, 2018 at 1:05 pm

Johan this brings back many memories of our years in the park, so many stories to tell around the camp fire and so many experiences

    Elize Parker
    Elize Parker March 19, 2019 at 1:23 pm

    Dankie Debbie!

Leave a Comment