Monday, March 30, 2020

KAAPSTAD – In 2017 moes omgewingshelde weer eens veel meer moed en vasberadenheid openbaar in die lig van ‘n aanslag op die omgewing op vele vlakke, hetsy as gevolg van politiese vergrype, globale omgewingsmisdade of kriminele omgewingswandade. Hierdie tien omgewingshelde het vir my uitgestaan in hierdie stryd om die blou planeet en sy kosbare natuurskatte te red en bewusmaking van bewaring te bevorder:

Nicholus Funda, hoofveldwagter van die Kruger-wildtuin, wat antistropingsaktiwiteite in die wildtuin aanvoer en veldwagters motiveer om die stryd teen stropers voort te sit. Die antistropings-voorspraakgroep, Oscap, bereken dat 884 plus renosters vanaf Januarie tot November 2017 (sluit Kruger-wildtuin in) gestroop is.

Nicholus Funda

Kerri Wolter het haar as uitvoerende bestuurder van VULPRO se aasvoëlreddingspan bewys as ‘n onderhandelaar van formaat toe sy na veelvuldige onderhandelings met Evkom beding het dat die kragvoorsiener spirale aanbring naby aan kraglyne by die Renoster en Leeureservaat aan die Wes-Rand waar ‘n groot aantal roofvoëls by ‘n aasvoëlrestaurant vreet.

Kerri Wolter

Tinyiko Golele, streeksveldwagter in die Kruger-wildtuin, voer die span aan wat sterk staan teen renoster- en olifantstroping in die noorde van die wildtuin. Olifantstroping is aan die toeneem in die wildtuin.In 2017 is daar teen Julie vanjaar 30 olifante in die Kruger-wildtuin gestroop teenoor 19 in die volle 2015 en 46 in die volle 2016.

Tinyiko Golele

Savannah Heuser van die Emoya Big Cat Sanctuary te Vaalwater in Limpopo het sedert 2013 ‘n tuiste gebied aan groot katte in nood soos sirkusleeus wat van mishandeling gered is. Tans is daar 40 leeus en twee tiere by die toevlugsentrum. Die sentrum het twee leeus in 2017 aan stropers afgestaan, maar die personeel het die trauma moedig verwerk.

Savannah Heuser

Mpumalanga Toerisme en Parkeraad en Mountainlands Estate Owners Association het na ‘n tienjaarlange stryd in howe teen Barberton Mines ‘n beslissing gekry wat die Barberton Natuurreservaat se antieke geologie en 2200 plantspesies bewaar teen prospektering en mynaktiwiteite.

Johan de Beer van die Kruger-wildtuin se K9-eenheid het hierdie eenheid uitgebrei in die parke van Sanparke om stroping landwyd die hoof te bied.

Johan de Beer

Theanette Staal van die African Penguin and Seabird Sanctuary werk toegewy met ‘n skrapse begroting saam met vrywilligers naby Gansbaai in ‘n pikkewynhospitaal as ‘n teenvoeter teen bedreigings wat bydra dat meer as 90 brilpikkewyne per week aan die Overbergkus vrek.

Theanette Staal

Wyle Frank Mabasa legendariese voëlgids van Kruger-wildtuin wat by Pafuri-piekniekterrein oor meer as 20 jaar voëlliefhebbers meer van geveerdes en hoe om hulle te bewaar, geleer het.

Frank Mabasa

Wyle Wayne Lotter van PAMS Foundation het met sy model van gemeenskapsbetrokkenheid teen stroping gekombineer met bekamping van korrupsie in regeringskringe die aantal olifante wat in Tanzanië gestroop word drasties laat daal. Lotter het met sy lewe geboet vir sy dapper bydrae tot die antistropingstryd.

Wayne Lotter

Louise Joubert van Sanwild Wildlife Sanctuary se jarelange toewyding tot beseerde diere en die terugplasing van sulke diere in hul tuistes sowel as om antistropingsaktiwiteite te ondersteun en renosters te red het vanjaar verskerp toe sy betrokke was by veral die stryd om ietermagôe (pangolins) uit stropers se kloue te red en hul aan die pen te laat ry. Navorsingsverslae van TRAFFIC wys dat 20 ton ietermagoê jaarliks onwettig verhandel word.

Louise Joubert

Foto’s: Elize Parker en ander bronne soos Facebook

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

0 Comments

Leave a Comment