Sunday, February 23, 2020

KAAPSTAD – ‘n Waarskuwing is op 4 Februarie aan die publiek gerig om nie die vier vals moordwalvisse wat tans skuiling soek in die Kaapse hawe in die omgewing van die V & A Waterfront te teister nie.

‘n Versoek is ook spesifiek aan bote en skuite gerig om nie naby die drie volwassenes en een kalf te kom nie.

Die vals moordwalvisse was eers op Bloubergstrand gestrand maar is deur die publiek teruggeplaas,

Zolile Nqayi Modise, woordvoerder van die departement van Omgewingsake, het aan Rhombus Media gesê dat die department ‘n beroep doen op die publiek om die vals moordwalvisse kans te gee om te herstel.

“Ons monitor die situasie saam met die Twee Oseane Akwarium en wetenskaplikes en vra ruimte om die situasie op te los,” het Modise versoek.

Die vals moordwalvisse het vandag in die Kaapse hawe opgeduik.

Hy het verduidelik dat die groep gister by Bloubergstrand op die strand uitgespoel het en deur strandgangers in die see teruggeplaas is. “Een van die volwasse vals moordwalvisse het kopbeserings gehad terwyl die ander in ‘n goeie toestand was. Ons vermoed die beseerde vals moordwalvis het bygedra tot die stranding op Bloubergstrand.”

Kyk hier na ‘n video oor die vals moordwalvisse

Modise het verduidelik dat die vals moordwalvisse in groepe van tot 40 op ‘n slag kan voorkom, maar wel ook in kleiner groepe opbreek. Hulle het ‘n geneigdheid om gestrand te word indien een van die groep beseer is.

“Een van die redes hiervoor is sterk sosiale bande. Dit dwing die groep om enige beseerde groeplid tot hulp te kom en nie alleen te laat nie.”

Hy het bevestig die department meen die vals moordwalvisse se teenwoordigheid in die hawe is dus tans die beste onder die omstandighede.

“Ons hoop die beseerde vals moordwalvis kan rus en genoeg krag opbou om weer diepsee in te swem sodat die groep nie weer strand nie.”

Foto’s: Departement van Omgewingsake

Tags: , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

0 Comments

Leave a Comment