Monday, March 30, 2020

MBOMBELA – ‘n Geliefde renosterkoei van die reddingsentrum vir renosters, Care for Wild Rhino Sanctuary (CFWRS), is nooit deur haar renostermaat, Storm, tydens haar siekbed verlaat nie. Sy het vroeër in Januarie skielik siek geword.

CFWRS is die grootste renosterweeshuis en toevlugsentrum internasionaal.

Vir 15 dae sou die renostermaat getrou vir Lunar saam met die span van CFWRS oppas. Op die dag van die onlangse maansverduistering het sy sag heen gegaan.

Vir Petronel Nieuwoudt, bestuurder van die reddingsentrum, was Lunar se afsterwe ‘n groot slag.

“Ek het op haar verlief geraak die eerste keer toe ek haar gesien het. Sy was hierdie koue en grys bondeltjie van brute krag.”

Lunar, geliefde renosterkoei van Care for Wild Rhino Sanctuary.

Lunar het vir die eerste keer na die reddingsentrum in Junie 2011 gekom gedurende ‘n maansverduistering. Sy is in Februarie van dieselfde jaar gebore. Haar ma is deur ‘n olifantbul doodgemaak toe sy ongeveer vier maande oud was.

“Ons tweetjies het saam om haar lewe geveg. Ons het nooit opgegee nie,” onthou Petronel.

Die spelerige renostertjie was ernstig siek toe sy by sentrum aangekom het en het amper drie keer na haar aankoms gevrek. Petronel kon haar telkens red.

“Lunar het my alles geleer wat ek vandag van renosters weet. Van die betowerende krag van renosters asook renostertaal, renostersoentjies en renosterglimlaggies – dit sou ek als by haar leer. Ek dink sy het modderbaddens uitgevind en vervolmaak. Sy kon op haar rug rol met al vier pote in die lug!”

Kliek hier en KYK hoe heerlik bad, Summer, ‘n onlangse aankomeling, in die modder.

Terwyl sy grootgeword het, het Lunar goeie vriende geword met ‘n ander renosterwesie, Storm. Hulle het sedert kleintyd ’n omheinde boma gedeel.

“Daar was ‘n diep band tussen hulle,” sê Petronel. “Hulle was van die begin saam en was sielsmaats.”

Lunar het ook ‘n diepe band met Petronel gehad. Sy het haar met elke eerste aanblik altyd duidelik onthou, moontlik omdat sy haar in die sewe jaar dikwels moes verpleeg en versorg.

Petronel kan jou ure besig hou met hoe innig renosters wel bande kan vorm en niemand vergeet wat eens vir hulle goed was nie. Jare nadat sy ‘n renostertjie versorg het, sou sy ‘n aand op ‘n wildplaas kuier waar hy sedertdien ‘n tuiste gevind het. Die oggend toe sy uit haar chalet stap, het hy op haar stoep getjank en gekerm totdat sy uitgekom het en kennis van hom geneem het.

“Ek dink hy het my stem herken na al die jare.”

Storm en Lunar is vanaf 4 Desember 2016 losgelaat in die veld om vry en wild as renosters te kan rondloop. Vandat sy die sentrum vroeg in hierdie dekade begin het, was dit nog altyd Petronel se droom dat die renosters wat gered word, weer vrygelaat word.

Die renostertjies wat aan haar sorg toevertrou word, is meesal die wesies van renosterkoeie wat in die Kruger-wildtuin deur stropers geskiet is vir hul horings.

Dit het goed gegaan met die vrygestelde renoster tot op 17 Januarie 2018 toe die antistropingsmonitors Petronel laat weet het sy het nie na haar middagslapie opgestaan nie. Die span van die reddingsentrum het haar onmiddellik die hulp gegee wat sy nodig gehad het. Binne ‘n uur het sy opgestaan. Die plaaslike vee-arts, dr. Albertus Coetzee, is gekontak en hy het verder nodige raad gegee.

“Sedert sy siek geword het, was ons gelukkig genoeg om haar die beste behandeling en sorg te gee. Die span vrywilligers het gras gesny en kos voorberei om haar te help vreet. Hulle het hierdie moeilike tyd soveel makliker vir my gemaak.”

Die siek renoster het spesiale aanvullings gekry en monsters is geneem sodat haar siekte geidentifiseer kon word. Verskeie donateurs het hande geneem om met haar behandeling in te spring soos Globe Flight wat medikasie gekoerier het en drs. Ferreira du Plessis, Albertus Coetzee en Douw Grobler wat met raad en daad gehelp het.

Ten spyte van al die sorg en behandeling het sy rustig in haar slaap op die oggend van 31 Januarie 2018 langs Storm heengegaan.

Die aand van haar sterfdag was daar ook ‘n maansverduistering. “Dit was ‘n spesiale maansverduistering, die superbloedmaan. Heel gepas soos met haar aankoms by ons. Ook omdat sy altyd vir my ook in die maan en in die sterre te vinde was. Ons was so lief vir mekaar.”
Foto’s: Ryan Koopmans en CFW.
• Indien jy ‘n bydrae wil maak om renosterwesies te red en CFWRS se hande te sterk, maak gerus ‘n draai op hul webwerf:

Tags: , , , , , , , , ,
Elize Parker
Environmental Journalist

0 Comments

Leave a Comment